As jy oor n naweek in Upington is, bel vir Sakkie op 082 564 6447 en maak seker jy vat ‘n doppie op Sakkie se Arkie.
Die Arkie vertrek middae op 13h00 en saans om 17h00 (dis nou in April) vanaf die kaai by Parkstraat 1. Stuur vir Sakkie ‘n Whatsapp en maak seker hy weet van jou.
Moet egter nie verwag dat die Arkie soos die MSC Ochestra presies om 17h00 gaan wegvaar nie. Die doel van die vaart is plesier, en nie die bestemming nie. Jy word gou gewys na jou tafel, en Sakkie maak seker dat die kelners vir jou ‘n rekening hou wat jy eers betaal wanneer jy weer aan land is. Ons tafeltjie was aan die voorkant op die boonste dek (ja, die Arkie is dubbelverdieping!).
Die kelnerin staan vinnig nader vir ons bestelling. Op die vraag ”wat het julle” kry ons die antwoord dat die tannie moet sê wat sy soek, want daars min drinkgoed wat hulle nie het nie. Ons begin met ’n G&T en bier terwyl ons wag dat die laaste gaste aan boord kom. Later is die Arkie reg om te vertrek. ’n Toeter kondig die vertrek aan, wat tot groot opgewondenheid aan boord lei.
Ons vaar eers stroom-op tot naby die treinbrug oor die rivier. Ons bestel dan elkeen ‘n drankie wat baie kleurvol en aantreklik lyk. Die kelnerin lyk of sy nog op skool is, en belowe dat sy dit nog nie gedrink het nie, maar dat die Arkie Special baie gewild is. Ons probeer hom, en besluit hy het net so harde skop soos Naas Botha is sy glorie-dae.
Die Arkie draai om en vaar stroom-af verby die kaai, onderdeur die brue (wat ons rakelings mis met die watervlak wat steeds hoog is) en dan verder stroom-af. Na ‘n kilometer of 2 sak die son en ons sien die laaste blink vir die dag van die Kam Kiri sonkrag aanleg. In laaste lig meer ons vas, betaal die rekening en wonder oppad terug na ons slaapplek of daar kopseerpille in die kas is.
Kontak:
Sakkie | 082 564 6447 |
Webwerf | www.arkie.co.za |
Adres | Parkstraat 1, Upington |
Comments